HOOFSTUK EEN

ALGEMENE ORIëNTERING, PROBLEEMSTELLING,

DOEL, METODE EN VERLOOP VAN

NAVORSING

1.1 INLEIDENDE ORIëNTERING

"A youngster who cannot sit still and who keeps fidgeting with his clothes or objects on a table, may simply be very energetic ... or the child may be suffering from Tourette's Syndrome - a disorder that could affect one in 100 children."

(Nieuwoudt, 1995:86)

"Die vyf Coetzee-kinders van Pretoria was slim en kreatief, maar twee het al by die rand van selfmoord omgedraai en elkeen het 'n hoesie of 'n kuggie of 'n ander snaakse gewoontetjie gehad. Toe kom hulle agter hulle is almal draers van dieselfde oorerflike geen ..."

(Coetzee, 1995:66)

Bogenoemde aanhalings verwys na die verskynsel bekend as Tourette-sindroom, en hierdie sindroom is al sedert die vroegste tye waargeneem en beskryf. George Gilles de la Tourette, na wie die sindroom vernoem is, het reeds in 1885 'n groot bydrae gelewer deur sy navorsing oor dié verskynsel (Edell-Fisher & Motta, 1990:539).

Resenter internasionale navorsing gee blyke daarvan dat Tourette-sindroom, (waarna verder aan as TS verwys sal word), sedert 1960 in Indië, Australië, Ceylon, Kanada, Puerto Rico en Saudi-Arabië aangetref is. Vanaf 1973 is daar omvattende navorsing oor TS in Duitsland, die VSA, China, Japan, Rusland, Denemarke, Engeland en Nederland onderneem (Pelser, 1994:7).

In Suid-Afrika is die prentjie effe anders, aangesien navorsing oor TS eers sedert 1991 tydens 'n simposium by die Universiteit van Pretoria 'n hupstoot gekry het. Enkele navorsingstudies op die terreine van die Opvoedkunde (Dijkman, 1992; Bannister, 1993; Pelser, 1994; Van Rensburg, 1996), Sielkunde (Futter, 1984; Bierman, 1993) en Kriminologie (Verwey, 1994) is intussen voltooi. Op die terrein van die Genetika is daar aan die Universiteit van Pretoria bevestiging gevind vir 'n basiese genetiese defek by die meeste TS-lyers (Gericke, Bissbort & Davis, 1992:342). Bogenoemde verwysings dui daarop dat navorsing oor TS in Suid-Afrika wel onderneem word, maar dat dit nog relatief skaars is.

Wat is Tourette-sindroom? Dit is primêr 'n genetiese afwyking en sekondêr 'n motoriese afwyking wat ook met leer-, gedrags- en emosionele probleme gepaard gaan (Gericke, 1995). Probleme soos aandaggebrekhiperaktiwiteitsversteuring, depressie, obsessioneel-kompulsiewe gedrag, antisosiale/aggressiewe gedrag, outisme en angsprobleme word ook met TS in verband gebring (Gericke, et al., 1992:343).

Laasgenoemde outeurs kategoriseer TS as 'n spektrumsindroom vanweë die wye verskeidenheid simptome wat kenmerkend van dié kliniese entiteit is. Die term "sindroom" word gebruik omdat die etiologie nie bekend is nie en die diagnose gebaseer is op tekens, simptome en kliniese diagnose (Shapiro, Shapiro, Young & Feinberg, 1988:78).

Wat die voorkoms van TS betref, wys Gericke, et al. (1992:342) daarop dat dit "'n voorbeeld van 'n toestand is wat tevore as uiters skaars beskou is, en tans as merker van 'n spektrumprobleem manifesteer". By implikasie is TS nie meer so seldsaam as wat vroeër beraam is nie. Hoe algemeen dit wel kan voorkom, spreek uit die stelling van Nieuwoudt (1995:86) dat "this disorder is perhaps the most common hereditary behavioural deviation in man".

Wat die Suid-Afrikaanse bevolking betref word beweer dat die voorkoms van TS, as gevolg van 'n klein gene-stigterspoel en verhoogde gene-voorkoms, heelwat hoër is as wat vermoed word. Navorsing in die Transvaalse Onderwysdepartement bevestig dat soveel as 1 uit elke 100 leerlinge wel TS kan hê (Pelser, 1994:155). Wanneer voorkomssyfers vermeld word, moet voorts in gedagte gehou word dat alle TS-lyers nie geïdentifiseer word nie, maar dat slegs ongeveer 10-20% van hulle wel uitgeken word, aldus Cohen & Leckman (1993:468). Indien die voorkomssyfer van TS in Suid-Afrika wel so hoog is as wat moontlik die geval is, sou dit betekenisvol wees om te vra in hoe 'n mate die selfkonsep van die TS-lyer deur so 'n "afwyking" beïnvloed word.

Die selfkonsep dui volgens Vrey (1979:48) op die "konfigurasie van oortuigings omtrent myself wat dinamies is en waarvan ek gewoonlik bewus is of bewus kan word". Sodanige konfigurasie van oortuiginge vorm dimensies van die selfkonsep, byvoorbeeld die fisieke self, persoonlike self, gesinself, sosiale self, waarde self en selfkritiek. Marsh (1990:90) verwys in hierdie verband na die persoon se "multiple self-concepts".

'n Sleutelaspek van die ontwikkeling van die selfkonsep is dat die liggaam dien as vertrekpunt vir selfkonsepvestiging en dat daar 'n intieme verweefdheid bestaan tussen die fisieke en psigiese dimensies van die selfkonsep (Van den Aardweg & Van den Aardweg, 1993:193). Ter stawing van laasgenoemde dui Cohen & Leckman (1993:464-465) byvoorbeeld aan dat die TS-lyer woede teenoor sy liggaam (fisieke self), asook teenoor sy ouers (gesinself) ervaar. Hierdie gedagtes wat hy in sy enigheid koester, asook die vertoning wat sy liggaam in die openbaar maak, kan die kind se selfkonsep versteur. Selfbeseringsgedrag kan sy selfafkeer verhoog (persoonlike self/selfkritiek) en daartoe lei dat hy homself ook van ander afsonder (sosiale self). Koprolalie, of die uiting van onwelvoeglike woorde (waarde self) affekteer ook noodwendig die sosiale interaksie met ander (sosiale self). Aangesien die gepaardgaande spektrumprobleme ook sy skoolloopbaan en akademiese prestasie kan beïnvloed, sal die akademiese selfkonsep waarskynlik ook aangetas word.

Tourette-sindroom hou dus die moontlikheid in om die TS-lyer se uitgaan tot die werklikheid te bepaal, in so 'n mate dat daar van "victims of Tourette syndrome" (Cohen & Leckman, 1993:466) gepraat kan word.

Gesien in die lig van die feit dat daar 'n behoefte aan meer Suid-Afrikaans georiënteerde navorsing oor Tourette-sindroom bestaan (Pelser, 1994:165) en teen die agtergrond van die sentrale posisie wat die selfkonsep in die lewe van 'n persoon inneem, sal dit sinvol wees om in hierdie navorsingstudie die selfkonsep van die adolessent met TS binne die Suid-Afrikaanse konteks te ondersoek. Sodoende sal gepoog word om vas te stel in watter mate TS 'n invloed op die selfkonsep uitoefen en watter voorstelle gemaak kan word om die selfkonsep van die adolessent te verbeter/te wysig, sodat optimale selfaktualisering kan plaasvind. Vervolgens kan daar gelet word op die bydrae wat die onderwys tot die optimale selfaktualisering van die adolessent met TS kan lewer.

In die VSA word daar verwag dat indien 'n kind met een of ander "toestand" geëtiketteer word, daar vir hom onderwysvoorsiening gemaak sal word, sodat sy potensiaal ten volle sal kan ontwikkel (Pelser, 1995). Aangesien daar in Suid-Afrika min fondse beskikbaar is vir die spesiale opvoedingsbehoeftes van buitengewone kinders, en daar nie spesiale skole vir TS-lyers bestaan nie, is dit noodsaaklik om te ondersoek hoe optimalisering van die kind se potensiaal binne die bestaande stelsel bewerkstellig kan word. Dit is derhalwe noodsaaklik om die opvoedingsbehoeftes van adolessente met TS, uit te lig. Met bogenoemde in gedagte, kan die probleem vervolgens gestel word.

1.2 PROBLEEMSTELLING

Sedert die negentigerjare het daar enkele artikels oor TS in die Suid-Afrikaanse populêre en wetenskaplike tydkrifte begin verskyn. Daar word gesuggereer, alhoewel daar nog nie voldoende Suid-Afrikaanse epidemiologiese studies gedoen is nie, dat die voorkoms van TS onder die Suid-Afrikaanse bevolking hoër is as wat vermoed word (Nieuwoudt, 1995:86). Indien dit die geval is, kan TS, met sy opvallende simptome en gepaardgaande probleme, die ontwikkeling van die selfkonsep van die adolessent beïnvloed. In hierdie studie sal daar dus ondersoek ingestel word na die selfkonsep van die adolessent wat aan TS ly.

Die primêre navorsingsprobleem kan nou formeel as volg geformuleer word:

Verskil die selfkonsep van die adolessent met Tourette- sindroom beduidend van dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie?

Die sekondêre navorsingsprobleme wat uit die primêre probleem voortspruit, sluit die volgende in:

* Bestaan daar beduidende verskille tussen die nie-akademiese selfkonsep van die adolessent wat aan TS ly en dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie?

* Bestaan daar beduidende verskille tussen die akademiese selfkonsep van die adolessent wat aan TS ly en dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie?

* Bestaan daar beduidende selfkonsepverskille tussen die adolessente seun wat aan TS ly en die adolessente seun wat nie aan TS ly nie?

* Bestaan daar beduidende selfkonsepverskille tussen die jonger en ouer TS-lyer?

* Bestaan daar beduidende selfkonsepverskille tussen die TS-lyer wat tot aanvaarding gekom het dat hy aan TS ly en die TS-lyer wat nie kan aanvaar dat hy aan TS ly nie?

1.3 DOEL VAN DIE ONDERSOEK

Die primêre doelstelling van die ondersoek is om te bepaal of die selfkonsep van die adolessent met TS beduidend van dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie, verskil.

Die volgende sekondêre doelstellings, wat uit bogenoemde primêre doelstelling spruit, is om te bepaal:

* of TS 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot beduidende verskille tussen die nie-akademiese selfkonsep van die adoles-sent wat aan TS ly en dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie;

* of TS 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot beduidende verskille tussen die akademiese selfkonsep van die adolessent wat aan TS ly en dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie;

* of TS 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot beduidende selfkonsepverskille tussen die adolessente seun wat aan TS ly en die adolessente seun wat nie aan TS ly nie;

* of ouderdom 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot bedui-dende selfkonsepverskille tussen die jonger en ouer TS-lyer;

* of die aanvaarding van TS 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot beduidende selfkonsepverskille tussen die TS-lyer wat aanvaar dat hy aan TS ly en die TS-lyer wat nie kan aanvaar dat hy aan TS ly nie.

1.4 BEGRIPSVERKLARINGS

1.4.1 Tourette-sindroom(TS)

Tourette-sindroom is 'n algemene, oorerflike gedragsafwyking, waarvan die belangrikste simptome motoriese en vokale trekkings is (Comings, 1990:i). 'n Uitgebreide konseptualisering van TS as 'n algemene, oorerflike afwyking, wat as spektrumsindroom gekenmerk word deur bogenoemde simptome, en wat kan manifesteer in 'n verskeidenheid van leer-, gedrags- en emosionele probleme (Pelser, 1994:5), vul Comings se omskrywing aan.

1.4.2 Selfkonsep

Die selfkonsep, wat die kern van die persoonlikheid van die individu is, word as 'n multidimensionele en hiërargiese konstruksie bestempel (Marsh, 1990:90). Dit sluit al die persepsies en gesindhede wat die individu oor homself op enige gegewe tydstip het, in (Hamachek, 1995:326).

Volgens Vrey (1979:95) is die "konfigurasie van oortuigings" oor die self dinamies. Sodanige konfigurasie van oortuigings vorm dimensies van die selfkonsep, naamlik die fisieke self, persoonlike self, gesinself, sosiale self, waarde self en selfkritiek (Vrey & Venter, 1983b:3).

1.4.3 Adolessent

Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (1983:18) definieer die begrip adolessent as volg: "Jeugdige, opgroeiende persoon; jongmens in die adolessensie periode". 'n Adolessent is dus 'n individu in die lewensperiode tussen kind wees en volwassene wees. Hierdie tydperk is die periode wanneer die individu homself herdefinieer, nuwe dimensies ontdek, sy selfbeeld wysig en met 'n nuwe selfkonsep vorendag kom (Van den Aardweg & Van den Aardweg, 1993:11).

Die begrip 'adolessent' het vir die doeleindes van die onderhawige studie betrekking op graad 8 tot 12-leerlinge.

1.5 NAVORSINGSMETODOLOGIE

Ten einde te poog om antwoorde op die gestelde navorsingsprobleem te vind en die beoogde doel met die navorsing te bereik, sal die volgende navorsingstappe gevolg word:

1.5.1 Die studieterrein sal begrens word.

1.5.2 'n Omvattende terreinverkenning sal by wyse van 'n literatuurstudie onderneem word om die verskynsels Tourette-sindroom en selfkonsep teoreties bloot te lê.

1.5.3 Die probleem sal gestel word en die doelstellings van die ondersoek sal uiteengesit word.

1.5.4 'n Empiriese ondersoek sal onderneem word ten einde die selfkonsep van adolessente wat in die sekondêre skool is en wat aan TS ly, te ondersoek.

Soveel as moontlik adolessente (graad 8 tot 12) wat deur 'n professionele persoon as TS-lyers gediagnoseer is, sal deur middel van advertensies, Internet, die TS-klinieke in Pretoria en Tygerberg, onderwyser-sielkundiges, sielkundiges en kinderartse en die verskillende onder- steuningsgroepe opgespoor en by die ondersoek betrek word.

'n Groep adolessente (graad 8 tot 12) wat nie TS-lyers is nie, sal ook ingesluit word.

1.5.5 Meetinstrumente

As meetinstrument sal 'n vraelys ingeskakel word wat uit die volgende dele bestaan:

Deel A: Biografiese besonderhede

Deel B: TS-verwante inligting

Deel C: Die Adolessente-Selfkonsepskaal (Vrey, s.j.) en The Adolescent Self-Concept Scale (Vrey & Venter, 1983a) (SA gestandaardiseerd)

Deel D: 'n Skolastiese selfkonsepskaal (Meyer, 1987), wat saamgestel is uit die volgende:

Deel D.1: Afdeling A van die Affekvraelys (Venter, 1983), wat die houding van die leerling teenoor die skool vasstel.

Deel D.2: Barker-Lunn (1970) se Academic Self-Image Scale (Cohen, 1976:111), wat vasstel hoe die leerling homself ten opsigte van sy skoolwerk evalueer.

Deel D.3: 'n Verkorte weergawe van Brookover (1967) se Self-Concept of Academic Ability Scale (Cohen, 1976:111-114), wat vasstel hoe die leerling homself evalueer ten opsigte van:

* die standaard van sy skoolwerk in vergelyking met sy klasmaats;

* die moontlikheid om kursusse op tersiêre vlak te slaag;

* die standaard van sy skoolwerk ongeag die punte wat onderwysers daaraan toeken; en

* die standaard van die werk wat hy in staat is om te behaal.

Die relevante vraelyste sal per pos na die TS-groep gestuur word, terwyl die vraelyste vir die Nie-TS-groep by enkele sekondêre skole afgeneem sal word.

1.5.6 Die navorsingshipotese sal gestel word, naamlik dat daar beduidende selfkonsepverskille tussen adolessente met gediagnoseerde TS en dié wat nie aan TS ly nie, bestaan.

1.5.6 Die resultate sal geanaliseer word. Parametriese statistiese tegnieke (die T-toets) en nie-parametriese statistiese tegnieke (die Chi-kwadraat-toets) sal gebruik word. Cronbach Alpha-koëffisiënte sal ook bereken word.

1.5.7 Die gegewens voortspruitend uit die analise sal kwantitatief sowel as kwalitatief geïnterpreteer word.

1.5.8 Die opvoedkundige implikasies sal bespreek word en aanbevelings sal gemaak word.

1.6. NAVORSINGSVERLOOP

1.6.1 In Hoofstuk EEN word aandag geskenk aan die volgende aspekte van die onderhawige ondersoek: 'n inleidende oriëntering waarin die aktualiteit en relevansie van die navorsing aangetoon word; die formele formulering van die navorsingsprobleem; die uiteensetting van die doelstellings, metodes en verloop van die ondersoek.

1.6.2 Tourette-sindroom sal in Hoofstuk TWEE vanuit 'n historiese perspektief, teoretiese perspektief en opvoedkundige perspektief beskou word. Die trefwydte, diagnostiese kriteria, differensiële diagnose, simptome, etiologie, behandeling en prognose van die sindroom sal belig word.

1.6.3 Die selfkonsep sal in Hoofstuk DRIE vanuit 'n teoretiese perspektief belig word. Die verskillende dimensies van die selfkonsep, naamlik die fisieke, persoonlike, sosiale, waarde, gesin- en akademiese self, asook selfkritiek, sal bespreek word met besondere verwysing na die adolessent. Die verband tussen die selfkonsep en TS sal ondersoek en aangedui word.

1.6.4 'n Uiteensetting van die navorsingsontwerp en ondersoek-metode sal in Hoofstuk VIER aan die orde gestel word. Dit sluit onder andere in: die afbakening en formulering van die navorsingsprobleem, die uiteensetting van die doelstellings en hipotese, die ontwerp van die steekproef, die voorstelling en verantwoording van die meetinstrument en die statistiese tegnieke wat toegepas sal word.

1.6.5 Die navorsingsresultate sal in Hoofstuk VYF aangetoon en kwantitatief sowel as kwalitatief geïnterpreteer word. Dit sal 'n aanduiding gee of die nulhipotese aanvaar of verwerp kan word.

1.6.6 In Hoofstuk SES sal die gevolgtrekkings en opvoedkundige implikasies van die navorsingsresultate bespreek word. Moontlike tekortkominge van die navorsing sal uitgelig word. Ten slotte sal aanbevelings ten opsigte van die opvoedingspraktyk gemaak word en verdere navorsingsmoontlikhede sal aangedui word.