HOOFSTUK VIER
NAVORSINGSONTWERP EN ONDERSOEKMETODE
4.1 INLEIDING
In Hoofstukke TWEE en DRIE is 'n literatuurstudie onderneem om die teoretiese uitgangspunte en navorsingsbevindinge rondom onderskeidelik Tourette-sindroom en die selfkonsep bloot te lê. Met hierdie literatuuroorsig is daar gepoog om die basis vir die onderhawige empiriese ondersoek daar te stel.
Die oogmerk met hierdie hoofstuk is om aan te dui watter werkswyse gevolg is om te bepaal of daar wesenlike verskille is tussen die selfkonsep van die adolessent met TS en dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie. Die navorsingsprobleme, doel van die ondersoek, navorsingsmetode, navorsingsontwerp, hipotese, samestelling van die steekproef en die meetinstrument sal vervolgens kortliks toegelig word.
4.2 PROBLEEMSTELLING
4.2.1 ALGEMENE ORIëNTERING
Dit blyk uit die teoretiese perspektief op Tourette-sindroom dat hierdie sindroom, wat alreeds in 1885 benoem is en wat wêreldwyd voorkom, die TS-lyer in sy totale gesitueerdheid (verwysende na sy ekosisteem) beïnvloed. Vanweë die verspreiding van kennis oor TS, is daar 'n toename in die diagnosering van TS-lyers (Sutton,1992:3), maar nie noodwendig 'n toename in kennis oor hoe TS die individu en sy ekosisteem beïnvloed nie.
Uit die bestudeerde literatuur blyk dit dat die TS-lyer se veelvuldige primêre en sekondêre simptome tot probleme aanleiding kan gee wat al die komponente van sy ekosisteem aantas. Die adolessent self se psigiese lewe kan versteur word en dit kan moontlik tot 'n swak selfkonsep aanleiding gee. Verder kan hy ook sy anderssyn as mindersyn beleef.
Die TS kan ook moontlik die interpersoonlike verhoudinge in die gesin versteur en 'n problematiese opvoedingsituasie in die hand werk.
In die skoolsituasie kan die TS-lyer se verhouding met sy onderwysers, portuurgroeplede en lede van die teenoorgestelde geslag moontlik geskaad word as gevolg van die optrede van die TS-lyer, asook die onkunde en wanopvattinge aangaande die sindroom. Aangesien die TS-lyer moontlik ontuis in die skool kan voel, wat selfs in skoolfobie kan manifesteer, met die gevolglike afwesigheid uit die skool, kan dit tot gebrekkige leer lei en sodoende 'n bose kringloop aan die gang sit. Gevolglik is die TS-lyer se akademiese voorbereiding vir die toekoms ontoereikend.
Die samelewing kan, vanweë verskeie redes, sosiale verwerping van die adolessente TS-lyer in die hand werk, wat hom eensaam kan laat.
Die internasionale en in die besonder die plaaslike navorsers het die aandag van veral die medici op TS gevestig. Gesien die ontoereikendheid van kennis ten opsigte van TS in die gesin en in die skool, en die implikasies wat dit vir die adolessent se selfkonsepvorming inhou, is dit noodsaaklik om inligting aan die onderskeie komponente van die ekosisteem deur te gee, ten einde die adolessent en ander betrokkenes by die geval, met die han-tering van TS te help en positiewe selfkonsepvorming te bevorder.
'n Diagnose van TS regverdig mediese en opvoedkundige ingryping by die individu reeds vanaf 'n vroeë ouderdom, maar ook 'n ingryping in al die komponente van die ekosisteem. Dit sal die risiko van 'n misloping van die interpersoonlike verhoudinge en ook selfkonsepvorming verminder.
Ten einde hierdie sindroom voortaan doeltreffend in hoofstroomonderwys te hanteer, sal die onderwysers deeglik ingelig moet word oor die oorsprong en aard van TS, asook hoe om hul onderwysstrategieë aan te pas en 'n klaskameratmosfeer te skep waarin almal, maar veral die TS-lyer, met sy TS kan saamlewe en 'n gesonde selfkonsep kan vorm.
Die vraag wat na aanleiding van bogenoemde ontstaan, is of die selfkonsep van die adolessent met TS beduidend verskil van dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie.
4.2.2 FORMELE FORMULERING VAN DIE PROBLEEM
Leedy (1974:51) is die mening toegedaan dat die navorsings-probleem meer gedifferensieerd en indringend globaal beskou kan word wanneer die primêre probleem uiteenval in 'n aantal sekondêre probleme. In hierdie ondersoek kan die primêre navorsingsprobleem tot 'n aantal sekondêre probleme gereduseer word.
4.2.2.1 PRIMêRE NAVORSINGSPROBLEEM
Die primêre navorsingsprobleem word as volg formeel geformuleer:
Verskil die selfkonsep van die adolessent met Tourette-sindroom beduidend van dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie?
4.2.2.2 SEKONDêRE NAVORSINGSPROBLEME
Sekondêre navorsingsprobleme wat onderliggend aan bogenoemde is en meer lig op die gestelde probleem kan werp, sluit die volgende in:
* Bestaan daar beduidende verskille tussen die nie-akademiese selfkonsep van die adolessent wat aan TS ly en dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie?
* Bestaan daar beduidende verskille tussen die akademiese selfkonsep van die adolessent wat aan TS ly en dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie?
* Bestaan daar beduidende selfkonsepverskille tussen die adolessente seun wat aan TS ly en die adolessente seun wat nie aan TS ly nie?
* Bestaan daar beduidende selfkonsepverskille tussen die jonger en ouer TS-lyer?
* Bestaan daar beduidende selfkonsepverskille tussen die TS-lyer wat tot aanvaarding gekom het dat hy aan TS ly en die TS-lyer wat nie kan aanvaar dat hy aan TS ly nie?
4.3 DOEL VAN DIE ONDERSOEK
Die doel van die onderhawige ondersoek kan duidelik afgelei word uit die gestelde navorsingsprobleme soos geformuleer as primêre en sekondêre navorsingsprobleme.
4.3.1 PRIMêRE DOELSTELLING
Die primêre doelstelling van die ondersoek is om te bepaal of die selfkonsep van die adolessent met TS beduidend van dié van die adolessent wat nie aan TS ly nie, verskil.
4.3.2 SEKONDêRE DOELSTELLINGS
Die sekondêre doelstellings van die ondersoek is om te bepaal:
* of TS 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot beduidende verskille tussen die nie-akademiese selfkonsep van die adolessent wat aan TS ly en die adolessent wat nie aan TS ly nie;
* of TS 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot beduidende verskille tussen die akademiese selfkonsep van die adoles-sent wat aan TS ly en die adolessent wat nie aan TS ly nie;
* of TS 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot beduidende selfkonsepverskille tussen die adolessente seun wat aan TS ly en die adolessente seun wat nie aan TS ly nie;
* of ouderdom 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot beduidende selfkonsepverskille tussen die jonger en ouer TS-lyer;
* of die aanvaarding van TS 'n veranderlike is wat aanleiding gee tot beduidende selfkonsepverskille tussen die TS-lyer wat aanvaar dat hy aan TS ly en die TS-lyer wat nie kan aanvaar dat hy aan TS ly nie.
4.4 HIPOTESESTELLING
'n Hipotese is 'n tentatiewe stelling oor die verwagte verband tussen twee of meer veranderlikes en kan beskou word as 'n voorlopige verklaring rakende die verwagte resultate van die ondersoek (McMillan & Schumacher, 1993:88). Dit dien dus as 'n voorgestelde oplossing van die geformuleerde navorsingsprobleem, wat uiteindelik aanvaar of verwerp mag word.
Daar word 'n onderskeid getref tussen 'n navorsingshipotese en 'n statistiese hipotese. 'n Navorsingshipotese (H1) stel 'n verwagte verband tussen twee veranderlikes voor. Die navorsingshipotese moet egter omgeskakel word in 'n statistiese hipotese of nulhipotese (Ho), ten einde dit deur middel van statistiese prosedures te toets (De Wet, Monteith, Steyn & Venter, 1981:80). Die nulhipotese dui gewoonlik die teenoorgestelde aan van dít wat deur die navorser voorspel of verwag word. Dit is dus 'n statistiese verklaring wat aandui dat daar geen verband tussen twee veranderlikes bestaan nie (Mc Millan & Schumacher, 1993:339).
Ten einde die doelstellings van die onderhawige studie te bereik, sal die onderstaande nulhipotese (Ho) getoets word. Die navorsingshipotese (H1) wat by die verwerping van die nulhipotese aanvaar word, word ook gestel:
Nulhipotese I (Ho):
Daar bestaan geen beduidende selfkonsepverskille tussen adolessente wat aan TS ly en adolessente wat nie aan TS ly nie.
Navorsingshipotese I (H1):
Daar bestaan beduidende selfkonsepverskille tussen adoles-sente wat aan TS ly en adolessente wat nie aan TS ly nie.
4.5 METING
In die empiriese navorsing is 'n saamgestelde vraelys, wat biografiese inligting, TS-verwante inligting, asook inligting rondom die verskillende dimensies van die selfkonsep ingesluit het, as meetinstrument ingeskakel. Die vraelys is as volg saamgestel (Kyk Bylae 1 en 2):
Deel A: Biografiese data
Deel B: Tourette-sindroomverwante data
Deel C: Nie-akademiese selfkonsep:
Die Adolessente-Selfkonsepskaal (ASKS) (Vrey, s.j.)
The Adolescent Self-Concept Scale (ASCS) (Vrey & Venter, 1983a)
Deel D: Akademiese selfkonsep:
D.1 Afdeling A van die Affekvraelys (Venter, 1983) D.2 Barker-Lunn (1970) se Academic Self-Image Scale (Cohen, 1976:110-111)
D.3 'n Verkorte weergawe van Brookover (1967) se Self- Concept of Academic Ability Scale (Cohen, 1976:112-114)
'n Meer volledige beskrywing van bogenoemde word vervolgens onderneem.
4.5.1 BIOGRAFIESE DATA (DEEL A)
Met behulp van die vrae in Deel A is die volgende identifiserende biografiese gegewens van die proefpersone ingewin: geslag, ouderdom, graad (standerd), geografiese lokaliteit (woonplek) en beroep van ouers. Die doel met die inwin van hierdie biografiese gegewens was om veranderlikes te voorsien wat met leerlinge se selfkonsepte in verband gebring kon word.
4.5.2 TOURETTE-SINDROOMVERWANTE DATA (DEEL B)
Met behulp van die vrae in Deel B is die volgende inligting van die TS-lyers rondom TS bekom: die gebruik van medikasie, toegang tot sielkundige hulpverlening, hulle eie gevoel jeens TS, hulle persepsies van hulle ouers se gevoel jeens TS en die verskillende manifesteringsimptome van TS soos deur hulle vermeld. Die doel met die inwin van hierdie TS-verwante data was om veranderlikes te voorsien wat met leerlinge se selfkonsepte in verband gebring kon word.
4.5.3 DIE ADOLESSENTE-SELFKONSEPSKAAL (ASKS)
THE ADOLESCENT SELF-CONCEPT SCALE (ASCS) (DEEL C)
Die bespreking van hierdie meetinstrument geskied aan die hand van Vrey (s.j.:1-27), Vrey & Venter (1983b:1-26) en Meyer (1987:170-181).
4.5.3.1 ONTWIKKELING VAN DIE TOETS
Teen die agtergrond van 'n analise van die selfkonsep en in aansluiting met die Tennessee Self-Concept Scale van Fitts (1965), het Vrey die ASKS ontwerp.
Volgens Vrey (s.j.:3) veronderstel die selfkonsep 'n bewuste begrip van die self. Dít waarvan die persoon bewus is of bewus van gemaak kan word, kan beskou word as die verskillende dimensies van die selfkonsep. Hierdie dimensies vorm die struktuur van die selfkonsep en kan as kriteria ingespan word wat geïntegreerd op die totale selfkonsep dui. Die struktuur van die selfkonsep bestaan uit die volgende dimensies:
* fisieke self, of die self in verhouding tot die liggaamlike;
* persoonlike self, of die self in sy eie psigiese verhoudinge;
* gesinself, of die self in gesinsverhoudinge;
* sosiale self, of die self in sosiale verhoudinge;
* waarde self, of die self in verhouding tot sedelike norme; en
* selfkritiek, as die mate van kritiek wat die persoon teenoor homself uitspreek.
(Die ASKS/ASCS meet slegs die nie-akademiese selfkonsep.)
Volgens Vrey (s.j.:3) dui die kwaliteit van die belewing van selfwaarde en selfagting in elkeen van hierdie verhoudinge, afsonderlik en gesamentlik of geïntegreerd, op hoe die individu homself beskou.
4.5.3.2 DIE KONSTRUKSIE VAN DIE TOETSITEMS
Elkeen van die eerste vyf dimensies van die selfkonsep word saamgestel in terme van selfidentiteit, aanvaarding van die self waarmee geïdentifiseer is en die persepsie van eie gedrag of optrede.
Die items wat geformuleer is, onderskei in die antwoord tussen 'n positiewe en negatiewe selfkonsep. Die totaaltelling verwys na 'n hoë of lae selfkonsep.
In die formulering van die items is die gebruik van die eerste persoon (ek) vermy, as 'n poging om sterk emosionele betrokkenheid en moontlike verdedigingshandelinge te voorkom. Teenoorgestelde kenmerke word verbind met persone A en B en van die proefpersoon word verwag om hom met elkeen te vergelyk en aan te toon met watter een hy die meeste ooreenstem.
Die dimensies wat deur die ASKS/ASCS gemeet word, word vervolgens toegelig:
Dimensie I: Fisieke self (verhoudinge met sy liggaamlike
gesteldheid)
1. Identiteit
Die persoon met 'n positiewe selfkonsep identifiseer homself met iemand wat blakend gesond, aantreklik en netjies is.
2. Aanvaarding
Die proefpersoon moet die mate van tevredenheid met sy gewig, sy voorkoms en sy lengte, sy liggaamsdele, sy gesondheidstoestand en sy aantreklikheid vir die teenoorgestelde geslag aandui. Aanvaarding hiervan dui op 'n positiewe selfkonsep.
3. Gedrag
Die handelinge waarmee 'n persoon besig is, kan tipies wees van iemand met 'n hoë of lae selfkonsep. Handelinge wat getuig van 'n hoë selfkonsep word nie gerem deur kommer, senuagtigheid of lompheid nie. Wanneeer laasgenoemde kenmerke wel voorkom, toon dit 'n gebrek aan selfvertroue en sien die persoon homself as onbekwaam of ondoeltreffend, wat dui op 'n lae selfkonsep.
Dimensie II: Persoonlike self (verhoudinge met sy psigiese gesteldheid)
1. Identiteit
Die persoon wat positief met homself identifiseer is opgeruimd, kalm en bedaard en sien homself as die gelyke van ander mense. Hy verloor nie selfbeheer nie, voel nie minderwaardig nie en is nie nukkerig nie.
2. Aanvaarding
Die persoon wat homself waardig ag, is tevrede met sy persoon, met sy vriendelikheid teenoor ander mense en met sy vermoë om probleme op te los.
3. Gedrag
Die persoon met 'n hoë selfagting se optrede is 'n weerspieëling van sy selfkonsep. Hy oorweeg die moontlike gevolge van sy handelinge voordat hy optree. Hy is tevrede met sy prestasie, kan homself handhaaf, staan vas by sy oortuiginge en bly nie gedurig besluiteloos nie. Hy hoef nie sy ego deurentyd te beskerm nie en word nie kwaad as hy berispe word nie.
Dimensie III: Gesinself (verhoudinge met sy gesin)
1. Identiteit
Die persoon met 'n positiewe selfkonsep sal ook verhoudinge met sy gesin en familielede stig wat aandui dat hy aanvaar word. Hy is verseker van sy gesin se liefde vir hom, is gelukkig en word hooggeag deur die gesin, en word deur hulle geraadpleeg en vertrou. Vanweë hierdie verhouding met sy gesinslede is hy daarvan oortuig dat hulle hom in enige situasie sal bystaan.
2. Aanvaarding
In die verhouding met sy gesinslede en familie word 'n persoon se selfagting geopenbaar. Hy is trots op sy gesin en familie. Daar is weinig misverstand tussen hulle. Gemeenskap word gesoek, soos aangetoon deur die uitsien na familiebyeenkomste. Geen agterdog word gekoester nie en hy voel ook nie maklik gekrenk deur wat hulle van hom sê nie. Die aanvaarding van die verhoudinge met die gesinslede dui aan dat hy tevrede is met die liefde wat onderling tussen hulle bestaan.
3. Gedrag
Die verhouding tussen persone bepaal hoe hulle onderling sal optree. Gesonde verhoudinge, wat die gevolg is van 'n positiewe selfkonsep, sal in die persoon se gedrag weerspieël word. Hy is regverdig teenoor sy gesinslede en sal niks doen wat hulle sal benadeel nie. Hy respekteer sy ouers en beweeg in sy onafhanklikwording weg van hulle af, sonder om verwerping te vrees. Hy beleef die aanvaarding van sy gesin en familie en voel nie uitgelewer aan hulle kritiek nie.
Dimensie IV: Sosiale self (verhoudinge met ander persone in die sosiale gemeenskap)
1. Identiteit
Die verhoudinge wat vanaf die huisgesin en die familie uitkring, betrek ook die gemeenskap. Die persoon met 'n hoë selfkonsep is vriendelik teenoor andere en hy ondervind dat ander toenadering tot hom soek en maklik met hom vriende maak. 'n Kenmerkende eienskap is dat hy belangstelling in andere toon.
2. Aanvaarding
'n Positiewe selfkonsep bring hoflikheid en geselligheid mee. Die persoon is nie teruggetrokke of selfbewus nie, maar gewild en hulpvaardig. In sy belewing van ander se verhoudinge met hom is hy tevrede met hulle belangstelling in hom.
3. Gedrag
Die handelinge wat verband hou met 'n hoë selfkonsep is onder meer dié wat aandui dat die persoon maklik vriende maak en met ander oor die weg kom. Hy vergewe ander maklik en sien hulle goeie eienskappe raak.
Dimensie V: Waarde self (identifisering met sedelike en godsdienstige waardes)
1. Identiteit
Die persoon met 'n positiewe selfkonsep identifiseer op 'n positiewe wyse met sedelike en religieuse waardes. Hy is eerlik en godsdienstig en onbesproke van gedrag, en het ander mense lief.
2. Aanvaarding
Die aanvaarding van sedelike en religieuse waardes bring 'n tevredenheid en berusting dat deugde soos eerlikheid, goedheid, getrouheid en waarheid uitgeleef word. Hy aanvaar verantwoordelikheid vir ander mense wat hulp nodig het.
3. Gedrag
Positiewe identifikasie met waardes lei tot gedragswyses wat daarmee ooreenstem. Deur te doen wat hy weet reg is, beroep hy hom nie op twyfelagtige metodes nie, en hoef hy homself nie te bekommer oor andere se verwagtinge van hom nie. Na aanleiding van sy oortuiging van wat reg en wat verkeerd is, verander hy sy gedrag as hy oortuig word dat hy verkeerd is en bestraf hy andere wat die morele en religieuse norme oortree.
Dimensie VI: Selfkritiek
Alhoewel die stellings van toepassing op hierdie dimensie effens neerhalend is, maak die meeste mense in die huidige samelewing hulleself in 'n mate daaraan skuldig. Die persoon wat nie nodig het om sy selfkonsep krampagtig te beskerm nie, sal nie huiwer om te erken as hy skuldig is nie. Daar word veronderstel dat iemand met 'n realisties-positiewe selfkonsep krities sal staan teenoor homself en dienooreenkomstig sal antwoord.
Om te verhoed dat 'n vaste beantwoordingspatroon by die proefpersone ontstaan, is die items van die verskillende dimensies, asook dié wat positief en dié wat negatief beantwoord word, toevallig gerangskik.
Tabel 1 dui aan watter items op elke dimensie met sy onderafdelings betrekking het:
TABEL 1: Groepering van items by elke dimensie van die ASKS/ASCS (Vrey & Venter, 1983b:8)
Subtoetse met onderdele | Items volgens nommers in die selfkonsepskaal |
A. Fisieke self 1. Identiteit 2. Aanvaarding 3. Gedrag |
1 7 13 19 25 31 37 42 48 54 59 64 70 75 80 91 94 97 |
B. Persoonself 1. Identiteit 2. Aanvaarding 3. Gedrag |
84 78 82 2 8 14 20 26 32 38 43 49 55 60 65 71 76 83 |
C. Gesinself 1. Identiteit 2. Aanvaarding 3. Gedrag |
77 81 85 63 69 73 3 99 15 21 27 33 39 89 50 56 61 66 |
D. Sosiale self 1. Identiteit 2. Aanvaarding 3. Gedrag |
62 68 72 47 53 58 87 90 93 4 10 16 22 28 34 40 45 51 |
E. Waarde self 1. Identiteit 2. Aanvaarding 3. Gedrag |
46 52 57 86 44 95 92 96 100 88 98 9 5 11 17 23 29 35 |
F. Selfkritiek
| 79 74 67 41 36 30 24 6 12 18 |
4.5.3.3 BETROUBAARHEID EN GELDIGHEID VAN DIE ASKS/ASCS
1. Betroubaarheid van die meetinstrument
In verband met betroubaarheid sê McMillan & Schumacher (1993:168) dat dit verwys na die vlak van konsekwentheid en/of akkuraatheid van die meting en die mate waarin die resultate wat in die toets behaal word, oor 'n tydperk en by verskillende toepassings van die meetinstrument, dieselfde is. As 'n meetinstrument onbetroubaar is, is die inligting wat daarmee verkry word dubbelsinning, inkonsekwent en waardeloos.
Die betroubaarheid van die ASKS/ASCS as geheel en van die subtoetse is volgens die Kuder-Richardson-formule bereken (Vrey & Venter, 1983b:13). Tabel 2 verskaf inligting ten opsigte van die betroubaarheid van die ASKS.
TABEL 2 : Metriese kenmerke van die ASKS (Vrey & Venter, 1983b:14)
Hele toets Subtoets A Subtoets B Subtoets C Subtoets D Subtoets E Subtoets F | 92 70,7 10,5 0,850 0,851 0,707 0,104 18 12,6 2,7 0,624 0,627 0,702 0,150 18 12,6 3,1 0,704 0,705 0,702 0,174 18 14,4 2,9 0,748 0,751 0,798 0,161 18 12,7 3,6 0,778 0,779 0,704 0,198 18 12,3 2,9 0,672 0,673 0,682 0,158 10 6,1 2,1 0,563 0,563 0,610 0,210 |
Uit tabel 2 blyk dit dat 'n hoë interne konsekwentheid vir die ASKS as geheel en al die subtoetse, behalwe subtoets F, gevind is, aangesien al die koëffisiënte volgens die K-R formule bereken, binne die aanvaarbare reeks (0,70 tot 0,90) van betroubaarheid vir koëffisiënte lê (Mc Millan & Schumacher, 1993:227).
TABEL 3: Metriese kenmerke van die ASCS (Vrey & Venter, 1983b:24)
Gemiddelde Standaard Betrou- telling afwyking baarheid | |
Hele toets Subtoets A Subtoets B Subtoets C Subtoets D Subtoets E subtoets F | x s r 64,50 12,30 0,89 10,92 3,24 0,69 11,62 3,27 0,68 12,80 3,75 0,81 11,25 3,90 0,79 11,27 3,05 0,62 6,59 1,83 0,43 |
Uit tabel 3 blyk dit dat 'n hoë interne konsekwentheid vir die ASCS as geheel, asook vir subtoetse C en D geld, aangesien die koëffisiënte volgens die K-R formule bereken, binne die aanvaarbare reeks (0,70 tot 0,90) van betroubaarheid vir koëffisiënte lê (Mc Millan & Schumacher, 1993:227). Die koëffisiënte van subtoetse A en B lê naby die aanvaarbare reeks koëffisiënte, terwyl subtoetse E en F se koëffisiënte nie op 'n hoë interne konsekwentheid dui nie.
Die betroubaarheid van die ASKS/ASCS as geheel en van al die subtoetse, is vir die onderhawige steekproef bepaal deur Cronbach Alpha-koëffisiënte te bereken.
TABEL 4: Die betroubaarheidskoëffisiënte van die ASKS/ASCS vir die onderhawige navorsing
Gemiddelde Standaard- Betrou- telling afwyking baarheid | |
Hele toets Subtoets A Subtoets B Subtoets C Subtoets D Subtoets E Subtoets F | 62,5 13,0 0,89 11,1 3,2 0,66 10,8 3,5 0,71 11,8 4,0 0,82 11,5 3,6 0,76 10,1 3,1 0,63 7,2 1,8 0,48 |
Uit tabel 4 blyk dit dat die Cronbach Alpha-koëffisiënte wat vir die onderhawige navorsing bereken is, ooreenstem met Vrey se berekende koëffisiënte, wat dus die interne konsekwentheid vir die ASKS/ASCS in die onderhawige navorsing bevestig.
2. Geldigheid van die meetinstrument
Vir die bepaling van die konstrukgeldigheid van die ASKS/ASCS kon die toetstellings nie gekorreleer word met 'n ander selfkonsep-toets nie, omdat so 'n toets nie bestaan nie. Daarom is op die berekening van die interne konsekwentheid vertrou (Vrey & Venter, 1983b:14). Vir die ASKS/ASCS is interne konsekwentheid bepaal deur die punt-tweereekskorrelasie tussen elke itemtelling en toetstotaaltelling te bereken.
Tabel 5 toon die geldigheid van die ASKS en die ASCS aan:
TABEL 5: Die interkorrelasiematriks van die betroubaarheids- koëffisiënte van die selfkonsepsubtoetse (Vrey & Venter, 1983b:14)
Subtoets | A | B | C | D | E | F |
A B C D E F | 1,000 ,607 ,346 ,517 ,372 -,248 |
1,000 ,393 ,602 ,531 -,393 |
1,000 ,273 ,432 -,199 |
1,000 ,302 -,149 |
1,000 -,430 |
1,000 |
Betroubaar-heidskoëf-fisiënte Standaard- afwyking | ,624
2,754 | ,704
3,171 | ,748
3,007 | ,778
3,611 | ,672
2,897 | ,563
2,114 |
Uit tabel 5 blyk dit dat al die korrelasies hoogs beduidend is en dat al die subtoetse 'n groot gemene faktor aandui (Vrey & Venter, 1983b:15).
4.5.3.4 Standaardisering van die ASKS/ASCS
1. Norme vir die ASKS
In die standaardisering van die ASKS is die roupunte van 591 eerstejaar-Afrikaanssprekende onderwysstudente omgeskakel in staneges. Op grond van die stanegetellings is die prestasies van die proefpersone onderverdeel in 'n hoë, medium en lae selfkonsep. Die norme vir die eerstejaartoetsgroep se roupunte word in tabel 6 aangedui.
TABEL 6: Norme vir die ASKS: eerstejaartoetsgroep se roupunte (Vrey & Venter, 1983b:19)
| Lae Selfkonsep | Medium Selfkonsep | Hoë Selfkonsep |
Roupunte Stanege | 38-62 1, 2, 3 | 63-78 4, 5, 6 | 79-92 7, 8, 9 |
Le Roux (1976) het die ASKS by 860 graad 8-leerlinge ingeskakel en norme vir die graad 8-groep se roupunte bereken (Vrey, s.j.:22). Tabel 7 verskaf die norme vir die graad 8-groep.
TABEL 7: Norme vir die ASKS: graad 8-groep se roupunte (Vrey & Venter, 1983b:20)
Lae Selfkonsep | Medium Selfkonsep | Hoë Selfkonsep | |
Roupunte Staneges | 28 - 55 1, 2, 3 | 56 - 70 4, 5, 6 | 71 - 90 7, 8, 9 |
In die onderhawige navorsing is bloot die roupunte van die proefpersone gebruik, sonder om dit na staneges om te skakel.
2. Norme vir die ASCS
Venter (1982) het die ASKS in Engels vertaal en norme vir die ASCS bereken deur die toets by 200 Engelssprekende onderwysstudente en 250 Engelssprekende senior sekondêre leerlinge in te skakel. Die prosedure vir die standaardisering was dieselfde as vir die ASKS (Vrey & Venter, 1983b:25).
Tabel 8 verskaf die norme vir die Engelssprekende toetspersone se roupunte.
TABEL 8: Norme vir die ASCS (Vrey & Venter, 1983b:25)
Lae Selfkonsep | Medium Selfkonsep | Hoë Selfkonsep | |
Roupunte Staneges | 35-52 1, 2, 3 | 53-75 4, 5, 6 | 76-95 7, 8, 9 |
Vrey & Venter (1985:101) het 'n diskriminantanalise uitgevoer om te bepaal hoe betekenisvol die voorspelling van proefpersone binne lae, medium en hoë selfkonsepgroepe op grond van die norme vir die ASKS en die ASCS is. Die norme vir die ASKS en die ASCS is so betekenisvol dat 97,8% van die lae, 86,3% van die medium, en 99,1% van die hoë selfkonsepgroepe binne daardie groepe ressorteer.
4.5.4 DIE AKADEMIESE SELFKONSEPSKAAL (DEEL D)
Omdat die ASKS en die ASCS slegs die nie-akademiese komponent van die selfkonsep evalueer, het die navorser van 'n saamgestelde akademiese selfkonsepskaal (Meyer, 1987:181-182) gebruik gemaak ten einde die akademiese dimensie van die proefpersone se selfkonsep te evalueer. 'n Bespreking van die vraelyste wat in die saamgestelde akademiese selfkonsep opgeneem is, vind aan die hand van Meyer (1987:181-182) plaas.
4.5.4.1 AFDELING A VAN DIE AFFEKVRAELYS VAN VENTER
(DEEL D.1)
Hierdie vraelys meet die houding van die leerling teenoor die skool en is deur Venter (1983) opgestel. Die skoolverwante affek van die leerling word veral bepaal deur sy siening van hoe suksesvol hy is in nie-akademiese en akademiese skooltake, die positiwiteit van sy houding teenoor die skool, sy betrokkenheid in die klas en of hy deur sy onderwysers uitgesonder word om spesiale opdragte te verrig.
Betroubaarheid en geldigheid: Betroubaarheids- en geldigheidskoëffisiënte vir hierdie spesifieke vraelys is nie beskikbaar nie. Vir die onderhawige navorsing is 'n Cronbach Alpha-koëffisiënt van 0,5439 vir hierdie deel (D.1) verkry, wat laer as die aanbevole 0,70 is, maar aanvaarbaar is.
4.5.4.2 ACADEMIC SELF-IMAGE SCALE VAN BARKER-LUNN
(DEEL D.2)
Hierdie meetinstrument is saamgestel deur Barker-Lunn (1970) (Cohen, 1976:110-111) en verskaf 'n beeld van hoe die leerling homself evalueer ten opsigte van sy skoolwerk. Die leerling moet sy skoolwerk op 'n driepuntskaal evalueer. Voorbeelde van items wat in die skaal voorkom is:
* Ek reken ek vaar nogal goed in my skoolwerk.
* Ek sukkel om baie van my skoolwerk te verstaan.
* My onderwyser(s) dink dat ek slim is.
Betroubaarheid en geldigheid: Cohen (1976:111) rapporteer 'n hoë interne konsekwentheid (Alpha-koëffisiënt = 0,88) vir die skaal. In die onderhawige navorsing is 'n Cronbach Alpha-koëffisiënt van 0,8162 vir hierdie deel (D.2) verkry, wat hoër as die aanbevole 0,70 is.
4.5.4.3 'N VERKORTE WEERGAWE VAN BROOKOVER SE SELF- CONCEPT OF ACADEMIC ABILITY SCALE (DEEL D.3)
Die verkorte weergawe van Brookover (1967) se Self-Concept of Academic Ability Scale in Cohen (1976:112-114) is gebruik. Hier moet die leerling sy eie standaard op 'n vyfpuntskaal evalueer, ten opsigte van die volgende:
* Die standaard van sy skoolwerk in vergelyking met dié van sy klasmaats.
* Die moontlikheid om kursusse op tersiêre vlak te kan slaag.
* Die standaard van sy skoolwerk ongeag die punte wat onderwysers daaraan toeken.
* Die standaard wat hy in staat is om in sy skoolwerk te behaal.
Betroubaarheid en geldigheid: Geen betroubaarheids- en geldigheidskoëffisiënte vir die verkorte weergawe van Brookover se Self-Concept of Academic Ability Scale word aangedui nie, maar Cohen (1976:113) rapporteer herhaalbaarheidskoëffisiënte van 0,95 vir seuns en 0,96 vir meisies vir die oorspronklike skaal. In die onderhawige studie is 'n Cronbach Alpha-koëffisiënt van 0,86 vir hierdie deel (Deel D.3) verkry, wat hoër as die aanbevole 0,70 is.
Die Cronbach Alpha-koëffisiënt vir die hele akademiese self-konsepvraelys (Deel D.1, D.2 en D.3 gesamentlik) is op 0,80 bereken, wat daarop dui dat hierdie deel hoogs betroubaar is.
4.5.5 Betroubaarheid van die hele vraelys
Om te bepaal of die hele selfkonsepvraelys (nie-akademies plus akademies) betroubaar is, is 'n alpha-koëffisiënt bereken. Vir die onderhawige navorsing is 'n Cronbach Alpha-koëffisiënt van 0,70 verkry, wat die betroubaarheid daarvan bevestig.
4.6 METODE VAN ONDERSOEK
4.6.1 NOMOTETIESE NAVORSINGSMETODE
Empiriese navorsingsmetodes val uiteen in twee tipes, naamlik ideografies en nomoteties. Van den Aardweg & Van den Aardweg (1993:114) verduidelik dat die ideografiese navorsingsmetode 'n ondersoek behels wat poog om die individu te begryp en te beskryf, dat dit gewoonlik kwalitatief van aard is en intensiewe studie van die individu verg. Meyer (1983:58) meld dat dit byvoorbeeld deur middel van gevallestudies, onderhoudvoering en projeksiemedia geskied en dat daar na ekspressiewe gedrag, gesinsamestellingsdinamika, vroeë herinnerings, interaksie en simptomatiese gedrag gekyk word.
Die nomotetiese metode daarenteen is op die insameling van gegewens van 'n groot aantal proefpersone of 'n groep, byvoorbeeld deur middel van 'n vraelys, ingestel en is verder statisties en kwantitatief van aard (Van den Aardweg & Van den Aardweg, 1993:157). Met hierdie navorsingsmetode word 'n uniforme prosedure gevolg. Dit is ook voordelig ten opsigte van tyd- en kostebesparing en laat ruimte vir veralgemening.
Vir die doeleindes van die onderhawige studie is die nomotetiese navorsingsmetode gebruik, aangesien 'n vraelys as ondersoekmedium ingeskakel is om gegewens oor twee groepe leerlinge in die sekondêre skool, se selfkonsepte in te samel.
4.6.2 DIE NAVORSINGSONTWERP
Volgens Mc Millan & Schumacher (1993:157) is die doel met 'n goeie navorsingsontwerp om 'n geloofwaardige antwoord op 'n geformuleerde probleem te verskaf en die hipotese te toets.
Die navorsingsontwerp dui aan watter stappe deur die navorser gevolg is om die navorsingsterrein te bepaal, proefpersone te selekteer en watter prosedure met die insameling van data gevolg is ten einde antwoorde op die gestelde probleme te verkry.
In hierdie onderhawige ondersoek is gebruik gemaak van 'n TS-groep sowel as 'n Nie-TS-groep. Elkeen van die proefpersone is eenmalig onderwerp aan toetsing met die vraelys, ten einde antwoorde te probeer verkry op die gestelde navorsingsprobleme.
Die statistiese gegewens is met behulp van statistiese tegnieke verwerk ten einde te bepaal of die selfkonsep van TS-lyers deur TS beïnvloed word. Die resultate hiervan behoort die navorser in staat te stel om die nulhipotese te aanvaar of te verwerp en om daarna gevolgtrekkings te maak.
4.6.3 DIE STEEKPROEF
Aangesien dit prakties onmoontlik sou wees om alle persone met Tourette-sindroom by die ondersoek te betrek, is met 'n monster uit die universum gewerk. Die resultate wat die navorsing met hierdie steekproef oplewer, sal veralgemeenbaar en geldig wees ten opsigte van die universum van persone met Tourette-sindroom, mits 'n verteenwoordigende steekproef gevind kan word, die steekproef op 'n ewekansige wyse saamgestel kan word en die steekproef die nodige aantal proefpersone insluit (De Wet, et al., 1981:110).
4.6.3.1 DIE ALGEMENE POPULASIE
Die ondersoekgroep is saamgestel uit 'n populasie van graad 8, 9, 10, 11 en 12-leerlinge tussen die ouderdomme 13 en 19 jaar. Volgens Vrey (1979:175) bevind hierdie leerlinge hulleself in die vroeë - en middeladolessente leeftydsfases.
Aangesien dit moeilik was om persone met Tourette-sindroom op te spoor, is die proefpersone van die TS-groep afkomstig uit die volgende sentra: Port Elizabeth, Kaapstad, Durban, Johannesburg, Pretoria en Heilbron. Daar is egter wel proefpersone uit die platteland, maar wat in die stad skoolgaan, by die steekproef ingesluit.
Die Nie-TS-groep bestaan uit 'n verteenwoordigende groep proefpersone in hierdie bepaalde grade in sekondêre akademiese skole in Port Elizabeth. Uit al die eertydse Model C akademiese skole in Port Elizabeth, is vier skole ewekansig verkies. Dit is gedoen deur aan die vyf Afrikaansmediumskole 'n identifikasie-nommer (1 tot 5) toe te ken, waarna 'n dobbelsteen gegooi is ten einde twee nommers te identifiseer en so twee skole te kies. Twee Engelsmediumskole is op dieselfde wyse uit vyf moontlikhede gekies. Sodoende is verseker dat elke skool 'n gelyke kans gehad het om by die steekproef betrek te word (De Wet, et al., 1981:113).
Om ewekansige steekproefneming verder te verseker, is aan elke graadgroep in die verskillende grade 'n identifikasienommer toegeken, waaruit een graadgroep ewekansig vir die navorsing gekies is. Al die lede van daardie graadgroep wat op die dag waarop die vraelys ingeskakel is, teenwoordig was, is dus by die steekproef ingesluit.
4.6.3.2 SELEKSIEKRITERIA
Ten einde te verseker dat die steekproef verteenwoordigend van die bereikbare populasie is, moes dit aan die volgende kriteria voldoen:
* Is Afrikaans- en Engelsmedium skole by die ondersoek ingesluit?
* Bestaan die steekproef uit slegs graad 8 ,9, 10, 11 en 12-leerlinge?
* Is seuns, sowel as meisies uit alle grade by die ondersoek betrek?
* Is stedelike, sowel as plattelandse leerlinge by die ondersoek betrek?
* Is adolessente vanuit alle sosio-ekonomiese vlakke van die samelewing by die navorsing betrek?
4.6.3.3 DIE TS-GROEP EN DIE NIE-TS-GROEP
Ten einde die geformuleerde hipotese te toets, is daar van twee groepe leerlinge gebruik gemaak, naamlik:
* die TS-groep, wat bestaan het uit 21 TS-lyers; en
* die Nie-TS-groep van 453 leerlinge wat nie aan TS ly nie.
4.6.3.4 BESKRYWING VAN DIE PROEFPERSONE
Die TS-groep bestaan uit leerlinge in die vroeë en middeladolessente fases, in die sekondêre skool, wat deur 'n professionele persoon as TS-lyers gediagnoseer is. Afrikaans- sowel as Engelssprekendes, seuns sowel as meisies, asook persone uit alle sosio-ekonomiese agtergronde, is by hierdie groep ingesluit. Soveel skoolgaande adolessente met TS as wat moontlik landwyd opgespoor kon word (naamlik 21), is by die navorsing betrek.
Indien die persentasie TS-lyers, in vergelyking met die persentasie persone wat nie aan TS ly nie, in ag geneem word, kan die TS-groep beskou word as verteenwoordigend van die universum van TS-lyers.
Die Nie-TS-groep van 453 leerlinge, is ewekansig saamgestel uit adolessente in sekondêre skole (graad 8-12) in Port Elizabeth, wat nie aan TS ly nie. Weer eens is beide taalgroepe, beide geslagte en adolessente uit alle sosio-ekonomiese agtergronde betrek, ten einde te verseker dat die groep verteenwoordigend is van die universum van adolessente wat nie aan TS ly nie.
4.6.4.1 VERSPREIDING VAN DIE PROEFPERSONE
Grafiek 1 verskaf inligting rakende die verspreiding van die proefpersone wat by die navorsing betrek is:
GRAFIEK 1: Verspreiding van die proefpersone
Uit die grafieke blyk dit dat die TS-groep uit 18 (85,7%) seuns en 3 (14,3%) meisies, dus 'n totaal van 21 bestaan het. Dit kan toegeskryf word aan feit dat TS meer dikwels by die manlike geslag aangetref word (DSM-IV, 1994:102; Singer & Walkup, 1991:17). Die Nie-TS-groep het bestaan uit 208 (45,9%) seuns en 245 (54,1%) meisies, dus 'n totaal van 453. Altesaam het 226 (47,4%) seuns en 248 (52,3%) meisies uit 'n totaal van 474 leerlinge aan die ondersoek deelgeneem.
4.6.4.2 BIOGRAFIESE EIENSKAPPE VAN DIE PROEFPERSONE
In grafiek 2 word die ouderdomsverspreiding van die proefpersone aangedui:
GRAFIEK 2: Ouderdomsverspreiding van die proefpersone
Uit die grafieke blyk dit dat die TS-groep bestaan het uit 6 (28,6%) proefpersone 13 tot 14 jaar oud, 8 (38,1%) proefpersone 15 tot 16 jaar oud en 7 (33,3%) proefpersone 17 jaar en ouer, dus 'n totaal van 21. Die Nie-TS-groep het bestaan uit 119 (26,3%) proefpersone 13 tot 14 jaar oud, 195 (43,0%) proefpersone 15 tot 16 jaar oud en 139 (30,7%) proefpersone 17 jaar en ouer, dus 'n totaal van 453.
In grafiek 3 word die graadverspreiding van die proefpersone aangedui:
GRAFIEK 3: Graadverspreiding van die proefpersone
Uit die grafieke blyk dit dat die TS-groep bestaan het uit 7 (35,0%) proefpersone in graad 8 en 9, 9 (45,0%) proefpersone in graad 10 en 11 en 4 (20,0%) proefpersone in graad 12, dus 'n totaal van 20. Een persoon het nie hierdie item beantwoord nie. Die Nie-TS-groep het bestaan uit 204 (45,0%) proefpersone in graad 8 en 9, 180 (39,7%) proefpersone in graad 10 en 11 en 69 (15,2%) proefpersone in graad 12, dus 'n totaal van 453.
In grafiek 4 word die geografiese verspreiding van die proefpersone aangedui:
GRAFIEK 4: Geografiese verspreiding van die proefpersone
Uit die grafieke blyk dit dat 2 (9,5%) van die TS-groep op die platteland woonagtig is en dat 19 (90,5%) uit stedelike gebiede afkomstig is, dus 'n totaal van 21. 22 (4,9%) van die Nie-TS-groep kom van die platteland, maar gaan skool in die stad, terwyl 431 (95,1%) in die stad woon en skoolgaan, dus 'n totaal van 453.
In grafiek 5 word die beroepsverspreiding van die ouers van die proefpersone aangedui:
GRAFIEK 5: Beroepsverspreiding van die ouers van die proefpersone
Uit die grafieke blyk dit dat 17 (89,5%) van die TS-groep se ouers 'n witboordjieberoep beklee, 1 (5,3%) 'n blouboordjieberoep beklee terwyl 1 (5,3%) werkloos is, dus 'n totaal van 19. Twee van die proefpersone in die TS-groep het nie hierdie item beantwoord nie. 361 (79,7%) van die Nie-TS-groep se ouers beklee 'n witboordjieberoep, 56 (12,4%) beklee 'n blouboordjieberoep terwyl 36 (7,9%) werkloos is, dus 'n totaal van 453.
4.6.4.3 TS-VERWANTE GEGEWENS VAN DIE TS-GROEP
In grafiek 6 word die gebruik van medikasie by die TS-groep aangedui:
GRAFIEK 6: Medikasieverbruik by die TS-groep
Uit die grafiek blyk dit dat 15 (75%) van hierdie TS-lyers tans op medikasie is, 4 (20 %) vantevore op medikasie was en dat 1 (5%) nog nooit medikasie gebruik het nie, dus 'n totaal van 20. Een proefpersoon het nie hierdie item beantwoord nie.
In grafiek 7 word benutting van sielkundige behandeling deur die TS-groep aangedui:
GRAFIEK 7: Benutting van sielkundige behandeling deur die TS- groep
Uit die grafiek blyk dit dat 14 (73,7%) van die TS-groep sielkundige behandeling ontvang en dat 5 (26,3%) geen behandeling ontvang nie, dus 'n totaal van 19. Twee proefpersone het nie hierdie item beantwoord nie.
In grafiek 8 word die persoonlike belewing van TS deur die TS-groep aangedui:
GRAFIEK 8: Persoonlike belewing van TS deur die TS-groep
Uit die grafiek blyk dat 9 (45%) van die TS-lyers nie veel daardeur gepla word nie, dat 2 (10%) selfbewus daaroor voel en dat 9 (45 %) dit haat om 'n TS-lyer te wees, 'n totaal dus van 20. Een proefpersoon het nie hierdie item beantwoord nie.
In grafiek 9 word die TS-groep se persepsies van hulle ouers se belewing van TS aangedui:
GRAFIEK 9: TS-groep se persepsies van hulle ouers se belewing van TS
Uit die grafiek blyk dit dat 15 (75%) van die TS-lyers voel dat hulle deur hulle ouers ondersteun word, dat 2 (10%) van die ouers ongeduldig met hulle is en dat 3 (15%) nie weet hoe hulle ouers voel nie, dus 'n totaal van 20. Een proefpersoon het nie hierdie item beantwoord nie.
In grafiek 10 word die primêre en sekondêre TS-simptome van die TS-groep, soos deur hulle vermeld, aangedui:
GRAFIEK 10: Primêre en sekondêre TS-simptome van die TS-groep
Uit die grafiek blyk dit dat 16 (80%) van die TS-lyers motoriese trekkings; 12 (60%) vokale trekkings en 11 (55%) beide motoriese trekkings en vokale trekkings ondervind; 17 (85%) konsentrasieprobleme ervaar; 11 (55%) hiperaktief is; 10 (50%) depressief is; 13 (65%) obsessies het; 6 (30%) sosialiseringsprobleme ervaar; 14 (70%) aggressief is; 10 (50%) vrese ondervind; 7 (35%) hulleself beseer; 12 (60%) een of ander fobie het en dat 6 (30%) aan 'n eetafwyking ly. Een proefpersoon het nie hierdie item beantwoord nie.
4.6.5 PROSEDURES BY DIE INSAMELING VAN DATA
4.6.5.1 Prosedure om die Nie-TS-groep saam te stel
Ten einde proefpersone vir die Nie-TS-groep (adolessente in die sekondêre skool wat nie aan TS ly nie) te bekom, is gedurende die eerste semester van 1996 skriftelike toestemming van die onderwysowerhede in Bisho verkry om navorsing by sekondêre skole in Port Elizabeth te onderneem.
Nadat toestemming verkry is, het die navorser met die individuele skole wat ewekansig geselekteer is, onderhandel om toestemming ook daar te verkry. Die skoolhoofde en die onderwyser-sielkundiges is hierby betrek.
Al die geselekteerde skole het ingestem om aan die navorsing deel te neem. Die vraelyste is gedurende Augustus 1996 per hand by die onderskeie skole in Port Elizabeth afgelewer en na voltooiing weer afgehaal.
4.6.5.2 Prosedure om die TS-groep saam te stel
Ten einde proefpersone vir die TS-groep (adolessente in die sekondêre skool wat aan TS ly) op te spoor, is landwyd kontak gemaak met TS-klinieke by universiteite en hospitale, asook TS-ondersteuningsgroepe. Onderwyser-sielkundiges by sekondêre skole in Port Elizabeth is genader, asook sielkundiges, algemene praktisyns en kinderartse.
Voorts het eenhonderd en veertig Xhosasprekende onderwysers wat deeltyds vir Opvoedkunde by Universiteit Vista ingeskryf is, 'n studieprojek oor TS onderneem en gepoog om Xhosa TS-lyers op te spoor. Advertensies is ook in die plaaslike oggendkoerante geplaas. Kennisgewings is by biblioteke in Port Elizabeth geplaas, waarin vertoë gerig is tot ouers van TS-lyers om 'n ondersteuningsgroep te stig. Van hierdie TS-lyers het aan die navorsingsprojek deelgeneem.
'n Brief ter verduideliking van die doel van die navorsing, asook die vraelys (kyk Bylae 1 en 2) is aan die proefpersone, via die betrokke instansie of kontakpersone gestuur.
Vanweë die hoeveelheid vraelyste wat by TS-klinieke self ingevul moes word, kon die vraelys nie by die klinieke self voltooi word nie, en is dit met die TS-lyer huis toe gestuur. Gevolglik het nie alle vraelyste teruggekom nie. Ten spyte van bogenoemde probleem is die grootste moontlike TS-groep saamgestel, maar kon 'n groot groep adolessente met TS nie opgespoor word nie.
4.6.5.3 Praktiese uitvoering van die ondersoek
Die TS-groep het die vraelyste tuis of in die skool ingevul en per gefrankeerde koevert deur die ouer of onderwyser aan die navorser teruggestuur.
Die vraelyste vir die Nie-TS-groep is deur die onderwyser-sielkundiges van die onderskeie skole ingeskakel. Hierdie persone is gekwalifiseerde toetsafnemers wat deeglik vertroud is met die afneem van sielkundige toetse. Die navorser het individueel met elke toetsafnemer in gesprek getree ten einde die toetstoepassingprosedure te verduidelik en te verseker dat daar streng by die neergelegde toepassingsprosedure gehou sou word.
Die vraelyste is in groepsverband (klasse) ingeskakel. Elke onderwyser-sielkundige het die instruksies wat op die vraelyste verskyn saam met die proefpersone deurgelees sodat elke leerling presies verstaan het wat van hom verwag word.
Die onderwyser-sielkundiges het die navorser verseker dat die toetsprosedure nougeset gevolg is en dat geen ongerymdhede plaasgevind het nie.
4.6.5.4 Nasien van die vraelys
Al die voltooide vraelyste is noukeurig deur die navorser vir moontlike dubbele antwoorde en weglatings gekontroleer. Die vraelysdata is daarna gekodeer en op die rekenaar by die rekenaarsentrum van die Universiteit van Port Elizabeth ingesleutel, waar die nodige statistiese bewerkings gedoen is.
4.6.5.5 Interpretasie van die vraelys
Vir elkeen van die ses dimensies van die ASKS/ASCS is 'n roupunt aan die proefpersone toegeken. Die roupunte van hierdie ses dimensies het gesamentlik die nie-akademiese selfkonseptellings van die proefpersone aangedui. 'n Roupunt van 0 tot 55 is as 'n lae -, 56 tot 70 as 'n medium - en 71 tot 100 as 'n hoë nie-akademiese selfkonsep beskou.
Vir elkeen van die 3 dele van die saamgestelde akademiese selfkonsepskaal is 'n roupunt vervolgens bereken. Hierdie roupunte is na persentasies omgeskakel sodat elkeen van die drie dele dieselfde gewig kon dra. Die gemiddelde persentasie behaal in die 3 dele van die saamgestelde akademiese selfkonsepskaal is as die proefpersone se akademiese selfkonseptellings beskou. 'n Roupunt van 0 tot 40 is as 'n lae -, 41 tot 80 as 'n medium - en 81 tot 100 as 'n hoë akademiese selfkonsep beskou.
'n Totale selfkonseptelling is vir elke proefpersoon bereken deur die nie-akademiese en akademiese selfkonseptellings bymekaar te tel. 'n Roupunt van 0 tot 54,2 is as 'n lae -, 54,3 tot 72 as 'n medium - en 73 tot 100 as 'n hoë globale selfkonsep beskou. Die 25ste - en 75ste persentiele van die frekwensieverdeling van die Nie-TS-groep is vir hierdie doeleinde gebruik.
4.8 SINTESE
In hierdie hoofstuk is die navorsingsprobleem, die doel van die ondersoek, die hipotese, die meetinstrument, die navorsingsontwerp en ondersoekmetode, asook die steekproef indringend bespreek. Daar is ook op die praktiese uitvoering van die navorsing gelet.
In Hoofstuk VYF sal die navorsingsresultate kwantitatief en kwalitatief geïnterpreteer word.